Not Logged in
SARL News Bulletin Archive



Home

Bulletin by e-mail
Bulletin Archive


SARL-NUUS - SONDAG 24 JANUARIE 2010

U luister na ZS6SRL, die amptelike radiostasie van die Suid-Afrikaanse Radioliga, die nasionale vereniging vir amateurradio in Suid-Afrika, met 'n nuusbulletin wat elke Sondag om 08:15 SAT in Afrikaans en om 08:30 SAT in Engels uitgesaai word. Oudio is ook beskikbaar via die web by www.sarl.org.za. Klik op 'ARMI' en volg die skakels soos aangedui. Vir oudio via Echolink, koppel met ZS0JPL-R.

Hierdie en vorige bulletins kan van www.sarl.org.za afgelaai word en u kan ook daar inteken om toekomstige bulletins per e-pos te ontvang.

U nuusleser is (naam en roepsein), op 145,725 MHz vanuit Pretoria, met herleidings op 28,325; 14,235; 10,130; 7,066 en 3,695 MHz ESB, asook op 52,750, 438,825 en 1 297 MHz FM in die Pretoria-gebied. (Ander nuuslesers verander soos toepaslik.)

STIL SLEUTELS

Dit is met leedwese dat die afsterwe van twee radioamateurs aangekondig word.

Dwight West, AD7AQ, ex ZS6NT, se sleutel het op 25 Desember 2009 stil geraak. Ons betuig ons innige meegevoel met sy vrou Lyn, familie en vriende.

Dave Ingram, K4TWJ, het op Woensdag 20 Januarie ’n stil sleutel geword na komplikasies ingetree het na ‘n ernstige hartaanval wat hy op 1 Januarie gehad het. Dave het die Ham Pride-artikels in Radio ZS geskryf. Ons betuig ons innige meegevoel met sy vrou Sandy, WB4OEE, familie en vriende.

(POUSE}

In die nuus vandag:

’n CUBESAT VIR SUID-AFRIKA

BACAR-2010 UITGESTEL

NOMINASIES INGEWAG VIR SARL-TOEKENNINGS

NUWE SARL-KOMPETISIEKOMITEE

U luister na ZS6SRL. Bly ingeskakel vir meer besonderhede oor hierdie en ander belangrike en interessante nuusitems.

’n CUBESAT VIR SUID-AFRIKA

Die Kaapse Skiereiland Universiteit vir Tegnologie (CPUT) het onlangs die F'SATI nagraadse program in Satelliet–ingenieurswese, wat ‘n wye veld van satellietkommunikasie en kragstelsels dek, in werking gestel. Die akademiese program is ontwikkel om studente van agtergrond te voorsien vir navorsing op hierdie terrein.

F'SATI, die Frans-Suid-Afrikaanse Instituut vir Tegnologie – wat fokus op Elektroniese Ingenieurswese, Inligting- en Kommunikasietegnologie, fokus op drie besonderse areas. Twee word by die Tshwane Universiteit vir Tegnologie (TUT) aangebied Bemagtigde Omgewing en Kommunikasie), terwyl die derde een, Satellietstelselingenieurswese deur CPUT aangebied word.

Die akademiese program word aangevul deur praktiese eksperimentering op ’n werklike satelliet. Studente sal ’n 3U-CubeSat bou. Die CubeSat-konsep het ontstaan uit ’n vennootskap tussen die Kaliforniese Polytechnique Universiteit in San Luis Obispo en die Stanford Universiteit in Paulo Alto. Uit hul vennootskap het ’n gestandaardiseerde ruimteplatform ontwikkel vir akademiese satellietprojekte. Dit het intussen gegroei tot ’n internasionale vennootskap van oor die 40 institute wat Pico-satelliete met wetenskaplike loonvragte ontwikkel. ’n Standaard-CubeSat is ’n 10 cm kubus met ’n massa van tot 1 kg.

Prof. Robert van Zyl, adjunkdirekteur van F'SATI, het tydens die opening van die nuwe satellietfasiliteit by CPUT se Bellville-kampus gesê studente sal ’n 3U-CubeSat bou wat bestaan uit drie standaard 10 x 10 cm-kubusse opmekaargestapel. Die loonvragte sal ’n kamera, ’n papegaaiherhaler en ’n send-ontvanger bevat. In vennootskap met die Hermanus Magnetiese Observatorium sal ’n HF-baken ingesluit word om die HMO te help om hulle radar in Antarktika te kalibreer. ’n Nuwe tipe magnetometer is ook onder konstruksie.

Prof. Van Zyl het voorts gesê dat CPUT bevoorreg is om ’n aansienlike finansiële bydrae te ontvang vanaf die Departement van Wetenskap en Tegnologie – deur die Nasionale Navorsingsraad. Hy noem ook dat die horlosie nou begin tik om die projek te voltooi en ’n konsepmodel gereed te hê teen Oktober 2011, wanneer die Internasionale Sterrekundige Konferensie in Kaapstad gehou word.

Afgevaardigdes wat die Radiotegnologie-in-Aksie-simposium van die SARL in Kaapstad later vanjaar bywoon, sal ’n geleentheid kry om dié fasiliteite te besoek.

BACAR-2010 UITGESTEL

BACAR-2010, wat beplan was om later vanoggend vanaf die Worcester-lughawe gelanseer te word, is uitgestel as gevolg van verskille tussen die owerhede wat die lugruim beheer. Kaapstad-lugverkeerbeheer het toestemming vir die lansering teruggehou.

SA-AMSAT en die BACAR-span vra om verskoning aan al die radioamateurs wat beplan het om vanoggend deel te neem. ’n Nuwe datum sal bepaal word sodra die probleme opgelos is.

STADIGE PAS NA 1 400

Dit is ’n opdraande stryd vir die SARL om die teiken van 1 400 lede teen die einde van die maand te bereik. Op Vrydag het die ledetal op 1 340 gestaan, 60 minder as die teiken. As u nognie hernu het nie, doen dit nou, of sluit aan vir slegs R200 tot die einde van Junie. Kontak Mariska Maandag by 011 675 2393 of – nog beter – voltooi die vorm op die webtuiste by www.sarl.org.za.

HET U VOORBEREI VIR DIE STRATEGIESE INDABA-OP-DIE-LUG?

Vroeg in Maart sal die Raad van die SARL byeenkom vir ’n strategiese indaba en u het nou die geleentheid om die raadslede te verwittig oor wat u meen die fokus vir die volgende twee jaar moet wees. Neem deel aan die besprekings tydens die President se Net om 19:30 op Sondag 31 Januarie.

As u nie by die President se Net kan aansluit nie, stuur u idees per e-pos aan armi@sarl.org.za en u voorstelle sal oor die lug gelees word. U kan dit ook faks aan 088 011 675 2793 voor Donderdagmiddag.

SLEGS SES PLEKKE OOP VIR DIE DURBAN-TUISKONSTRUKSIEKURSUS

Daar is slegs ses plekke oop vir die tuiskonstruksiekursus wat op Saterdag 6 Februarie by die Universiteit van KwaZulu-Natal in Durban gehou word. Die koste is R300 vir SARL-lede en R700 vir nie-lede. As u nognie vir die Durbankursus bespreek het nie, doen dit nou. Die kursusfooi sluit ’n CD met programmatuur vir kringdiagramme en komponentuitlegte met Windows in, asook ’n praktiese demonstrasie wat u kringdiagram sal omskakel na ’n eersteklas industriële projek.

Die doel met die kursus is om die volgende vaardighede te ontwikkel:
Hoe om oppervlakgemonteerde kwaliteit gedrukte stroombane te maak;
Hoe om komponente vir platvlakmontering te monteer;
Hoe om industriële skermplate en naamplaatjies te maak.

In Port Elizabeth word die kursus op 20 Februarie aangebied.

As u bespreek het, gaan u besonderhede na by www.amateurradio.org.za/hcc2010.htm of volg die RTA-skakel vanaf www.sarl.org.za. As u wil bespreek, doen dit nou. Die vorm kan afgelaai word vanaf die tuiskonstruksiebladsy.

NOMINASIES INGEWAG VIR SARL-TOEKENNINGS

Die sluitingsdatum vir nominasies vir die volgende SARL-toekennings deur klubs en SARL-lede kom vinnig nader:

Lewenslange Erelidmaatskap – die SARL se hoogste toekenning;

Die Willie Wilson Goue Wapen – toegeken deur die Raad vir uitsonderlike en voortreflike diens aan die Liga;

Die Jack Twine Toekenning – toegeken aan amateurs wat in die opinie van hul mede-amateurs en die SARL-raad ‘n voorbeeld is van die uitstaande eienskappe wat 'n radioamateur moet hê;

Die Arthur Hemsley 2 m-trofee – toegeken vir uitsonderlike prestasie op AMA- of soortgelyke troposferiese voortplanting;

Die Barney Joel Trofee – toegeken vir die beste prestasie op mobiele HF;

Die Joseph White Muurplaat – toegeken vir uitsonderlike prestasies op die 432 MHz-band;

Die Bert Buckley 6 m-trofee – toegeken vir individuele prestasie in die 6 m-band;

Die ICOM Uitnemendheidstrofee – toegeken aan 'n amateur wat internasionale erkenning vir Suid-Afrika in die radioamateurdiens verkry het;

Die Radio ZS BHF-trofee – toegeken aan ’n amateur vir die langste afstand op die 2 m-band behaal.

Die nominasies moet gestuur word aan Die Sekretaris, SARL, Posbus 1721, Strubensvallei, 1735, of per faks aan 088 011 675 2793 voor 31 Januarie.

VERSLAG OOR DIE PEARS NASIONALE BHF/UHF-KOMPETISIE

As gekyk word na die verslae wat ontvang is wil dit voorkom of daar meer as ooit vantevore landwye belangstelling in die kompetisie was. Dis die eerste keer in die geskiedenis van die PEARS-kompetisie dat die land deurspek was met BHF/UHF-seine.

Derek, ZS5Y, van Scottburgh, het Kaapstad, Port Elizabeth, Kimberley, Pretoria, en verskeie ander plekke op 50 MHz gewerk. Op 144 MHz het hy onder meer Kaapstad, Pretoria, Bloemfontein, Nigel en Haven gewerk. Hy het kontak met al ses afdelings gemaak en die langste afstand was 1 229 km – in digitale modus.

André, ZS2ACP, van Port Elizabeth, het op 50 MHz met ZS6WAB in Polokwane – 1 181 km vêr – kontak gemaak, asook met Sian, ZS3SVD, in Delportshoop (630 km) en daarna met ZS6WAB (1 181 km) op 70 MHz. Op 144 MHz het ZS2ACP punte aangeteken deur met ZS2GK (Haven, 368 km), ZS6TAF (Johannesburg, 909 km), ZS4N (Bloemfontein, 536 km), ZS5Y (Scottburgh, 646 km) en ZS6OB (Pretoria, 943 km) kontak te maak. Hierdie digitale kontakte is gemaak via meteoriet- en tropoweerkaatsing.

Op Vrydag was die tropotoestande aanvanklik swak, maar namate toestande verbeter het, het die 144,400 MHz, FM, DX-kanaal 'n miernes van bedrywighede geword, wat regdeur die kompetisie aangehou het. Aanvanklik het die tropo-inversielaag die BHF-stasies bevoordeel – byvoorbeeld, Eric, ZS2ECH, van Port Elizabeth, wat met ZS2NB in Oos-Londen op 144,200 MHz ESB kontak gemaak het. Die rapport was slegs 55, maar later toe die inversielaag gesak het, was ZS2NB in staat om 'n sein van S9-plus op FM te registreer. Verskeie analoogkontakte is langs die kus vanaf Danabaai tot by Haven gemaak, en dit sluit sewe veldstasies in.

Die beste analoogkontak wat in die binneland aangeteken is, was tussen ZS3SVD in Delportshoop en ZS6CBQ in Krugersdorp op 144,200 MHz ESB oor 'n afstand van 400 km. Verskeie lesse is uit hierdie kompetisie geleer en volgende jaar gaan beslis nog beter wees.

KOMPETISIENUUS

NUWE SARL-KOMPETISIEKOMITEE

Stel u beland in HF- of BHF/UHF-kompetisies? Die SARL wil ’n nuwe kompetisiekomitee stig. Van die take wat hierdie komitee sal verrig is die bestuur van HF- en BHF/UHF-kompetisies, die opdatering van kompetisiereëls, die skep van nuwe kompetisies, hantering van dispute en die uitreiking van die jaarlikse kompetisiehandboek. As u op hierdie komitee wil dien, stuur asseblief u naam aan hfcontests@netactive.co.za teen Sondag 31 Januarie.

Die SARL 80 m Foon-Klubkompetisie word op Woensdag 27 Januarie vanaf 19:30 tot 20:30 SAT gehou. Hierdie is 'n foon-alleen-kompetisie en 'n RS-verslag en 'n opeenvolgende reeksnommer vanaf 001 word uitgeruil. Elke kontak tel een punt en stasies mag slegs een keer tydens die sessie gekontak word. Die individuele tellings word bymekaargetel om die radioklub se telling te bepaal.

HF-VOORTPLANTINGSVOORSPELLING

Hannes Coetzee, ZS6BZP, rapporteer dat die sonaktiwiteitsvlak steeds laag is. Tans is sonvlek 1 041 aktief. 'n Nuwe rekordsonfakkel is Woensdag vir siklus 24 opgemerk. Die voorspelde effektiewe sonvlektelling vir die week is tussen 20 en 30. Toestande is beslis besig om te verbeter.

15- en 20 m is die beste keuses vir DX. Gedurende die middae gaan die toestande na Indië goed wees. Gedurende laatmiddae en aande gaan toestande na Europa gematig wees. Kontakte met Nieu-Seeland gaan op 15 m vir 'n kort rukkie gedurende die oggende moontlik wees. Gedurende die oggende en smiddags behoort kontakte met Australië vir 'n kort rukkie op 20 m moontlik te wees. Gedurende die middae is daar 'n goeie kans vir 15 m-kontakte met die VSA. Smiddags en vroegaande gaan toestande op 15 en 20 m na Brasilië goed wees.

Plaaslike toestande gaan gedurende die dag op 40 m goed wees. 80 m behoort gedurende vroegoggend en laatmiddag goeie resultate oor die korter afstande te lewer. 30 m sal gedurende die middel van die dag goeie resultate oor die langer afstande lewer. 20 m het weer van sy aansien herwin en daar kan goeie kontakte oor die langer afstande gemaak word. Saans is 80 m die beste keuse.

Besoek gerus www.spaceweather.co.za vir meer inligting.

DAGBOEK VAN GEBEURE

27 Januarie - SARL 80 m-foon-klubkompetisie;
31 Januarie – Die President se Net om 19:30;
31 Januarie - Sluitingsdatum vir AJV-mosies en SARL-toekennings;
31 Januarie - Sluitingsdatum vir kompetisiekomitee-nominasies;
6 en 7 Februarie - AWA GG-aktiwiteitsdag;
6 Februarie - Tuiskonstruksiekursus in Durban;
20 Februarie - Tuiskonstruksiekursus in Port Elizabeth;
28 Februarie - Sluitingsdatum vir die opstelkompetisie oor SumbandilaSat;
28 Februarie - Laaste datum vir inskrywings vir die ARRISS-SAT-projek wat ingestuur moet word na youth@sarl.org.za;
27 Maart - 2010 SA AMSAT-ruimtesimposium.

SARL-nuus nooi klubs en individue om nuusberigte wat vir radioamateurs en kortgolfluisteraars van belang is, in te stuur. Indien moontlik, plaas nuusberigte in beide Afrikaans en Engels op www.sarl.org.za/newsinbox.asp, nie later nie as die Donderdag wat die bulletindatum voorafgaan.

Die SARL nooi u ook om te luister na die program Amateur Radio Mirror International, wat om 10:00 SAT op 145,750 MHz in die Pretoria-gebied uitgesaai word, met herleidings op 7 082, 7 205 en 17 860 kHz. Daar is ook 'n 'Podcast'-uitsending waarna geluister kan word. Vir oudiostrome en Echolink deur ZS6FCS, besoek www.sarl.org.za, klik op 'ARMI' en volg die skakels. 'n Heruitsending vind Maandagaande om 21:00 SAT op 3 215 kHz plaas. Sentech borg die uitsendings op die nie-amateurfrekwensies.

U het geluister na 'n nuusbulletin van die Suid-Afrikaanse Radioliga wat deur Dennis, ZS4BS, saamgestel is. Die bulletinredakteur was Jannie, ZR6PHD.

Dankie dat u saamgeluister het. 73.
/EX


Copyright © 1997- 2006  South African Radio League
Last modified: 14 April 2003